Ons almal ken die gesegde "Moenie my oordeel nie voor jy nie in my skoene geloop het nie."
Die lewe was nog nooit reverdig nie en sal ook nooit wees nie. Vir party van ons is die stofpad vol klippe, slaggate en hobbels. Ander se grondpad het net 'n paar klippe en dalk 'n slaggat of twee. Terwyl ander net 'n reguit en plat stofpad het.
Op die einde van die dag stap elkeen sy eie stofpad en word ons skoene sommer gou vuil en stukkend. Party mense se skoene word net vinniger oud en vol stof.
Ek wonder altyd hoekom die lewe so werk. Hoekom moet party mense so bitter swaarkry in die lewe. Soveel mense se lewenspad is maklik, sonder seer en swaarkry. Terwyl ander gedurig seerkry, swaarkry en net sukkel in die lewe.
Ek sien mense in hierdie deurmekaar en hartseer wêreld sleepvoet een treë na die ander gee. Hulle skoene die toonbeeld van hoe moeilik hulle lewe is of bloot net waarteen hulle al moes baklei.
Ons skoene vertel ons stories, ons lewensreis, oud, vol stof en dalk ook stukkend. Ek glo dat elke persoon met deurgeloopde skoene soveel meer lewenslesse geleer het. Soveel meer ondervinding het en so baie al oorwin.
Jou ou, stukkende skoene wys dat jy nie moed opgegee het nie, nie bang was om te waag nie en elke moeilike situassie aanpak sonder vrees.
Dan kom die vraag. Hoekom is ander mense se skoene heel en sonder stof. Het hulle maar net nog altyd 'n moeilike lewe gehad of is hulle bloot net te bang om probleme aan te pak. Dan wonder ek ook hanteer die mense met hulle mooi, blink skoene dalk net die wêreld se probleme makliker en vinniger en het hulle skoene nie tyd om vuil en stukkend te word nie. Het hulle dalk beter deursettingsvermoë en kom hulle net vinniger deur die pyn, swaarkry en opdraende.
Ek dink egter dat die ou stukkende skoene behoort aan mense wat al soveel moes deurgemaak het in die lewe. Wat al die hardste moet baklei en al baie geval het maar elke dag daardie ou stukkende skoene aantrek want dit is hulle herinneringe van wat hulle al oorwin het.
So ja voor jy iemand wil oordeel of jou opinie oor hulle gee. Kyk na hulle skoene en maak 'n eerlike opregte besluit.