10 Jun

Ons definieer onself deur jare as iemand binne 'n rol. 

Ek is 'n ma se kind, 'n skolier, 'n student. As jy 'n talent het word dit jou identiteit - ek is 'n danser, 'n musikant, 'n atleet. Mense verwys na jou volgens jou posisie en rol. Sy is die onderwyser, hy is die dokter.  Later as jou kinders skool toe gaan word jy so en so se ma.

Rolle en posisies is naambordjies wat ons gebruik om mekaar te beskryf en onsself sinvol en waardig te laat voel.

Tog, wie is jy werklik?

Voordat jy enige rol aangeneem het en nadat jy al jou werkstitels verloor het - wie is jy?

God het geen titel of rol gebruik om homself te definieer of te verifieer nie.

Dit laat my ook dink aan plante en diere. Wie of wat  bepaal of die daisy in die middel van Namakwaland of die gemsbok in die Namib sy doel bereik het? Is dit nie bloot die feit dat hulle leef, bestaan en net IS nie. 

Miskien kan ons ophou om onsself woorde en definisies te gee in terme van beroepe en dinge wat ons al gedoen het in ons lewe. Ek is geskape as 'n unieke en eiesoortige mens. Deur daardie unieke wese wie ek is ruimte te gee om te groei en te wees tot vreugde van die een wat my geskape het - bereik ek my doel. En elkeen kan sĂȘ ek is wat ek is en dit is goed so.

Daarmee bedoel ek natuurlik nie "so gemaak en so gelaat staan nie" 

Alle skepsels op aarde groei en ontwikkel. Elke saad verander in 'n plant, 'n embrio word 'n baba wat groei to volwassenheid en dan weer self 'n ouer word.

So word elkeen gebore met die wete dat ek hier is om te groei en te ontwikkel om die beste weergawe van myself te wees. 

Ek bedoel bloot dat ons kan rus in die wete - so lank as wat ek net teenwoordig is in die oomblik wat ek gegee is en groei en ontwikkel soos vir my bepaal is. Het ek betekenis en waarde en is ek wie ek moet wees.

Net soos daardie veldblom wat nooit deur iemand gesien word nie, maar weet sy bestaan en is beeldskoon.

Comments
* The email will not be published on the website.